
Hier in Glenmore se winkel
staan 'n oom in die ry.
Hy staan doodstil en wag
vir sy beurt reg voor my.
Toe ek afkyk, word my hart koud,
ek voel ek wil kreun;
hy't tatoos en 'n oorbel en 'n ysterbeen.
En ek wonder wat's sy storie van toeka se tyd.
Was dit 'n ongeluk of het 'n haai sy been afgebyt?
Is hy 'n seerower met 'n ystertand en 'n afvingerhand,
wat sy skatte hier kom wegsteek op Peter Pan se strand?
Wat is in sy skatkis, vra klein boetman,
Is dit geld, juwele of dalk tien rand?
Maar wat van sy ysterbeen, wonder ons weer?
En is dit nie dalk soms 'n bietjie seer?
Toe die oom klaar betaal het, toe draai hy om
en ek kyk in sagte blou oe, ek was skoon stom.
Hy glimlag toe vriendelik en loop sonder om te steun,
met tatoo's en 'n oorbel en 'n ysterbeen.

